Donderdag 14 September 2000 Tweede uitgawe Bladsy 16

ACDP in stad gaan verkiesing alleen aandurf Die African Christian Democratic Party (ACDP) in groter Pretoria gaan die komende plaaslike verkiesing in Pretoria onder sy eie vaandel aandurf en geen alliansies vorm nie. Mnr. Pieter de Necker, woordvoerder van die ACDP, sê kiesers kan maklik verwar word deurdat die Christian Democratic Party (CDP) as deel van Visie2000+ aan die verkiesing gaan deelneem.

De Necker het gesê die finale kandidatelys van wyke sal eers later bekend gemaak word, maar dat die eerste agt plekke op die proporsionele lys reeds finaal is. Die party gaan kandidate in al die tradisionele wit wyke stel, en moontlik in die ander wyke.

Die enigste raadslid wat die ACDP in die Pretoriase stadsraad het, mev. Kerry Botha, gaan haar nie weer as kandidaat vir die ACDP beskikbaar stel nie. Die agt mense wie se name eerste op die proporsionele lys verskyn, is mnr. Thabo Makgato ('n lid van die ACDP se uitvoerende komitee in Gauteng), De Necker (visepresident van die ACDP-Jeugliga), mnr. Richard Dinkelmann (Zwartkop-takvoorsitter), eerw. George Mataboge (president van die Baptiste unie), mev. Lerato Makgato (voorsitter van die ACDP-Vroueliga in Pretoria), me. Anne-Marie Sparg (uitvoerende komiteelid van die Pretoria-streek), mnr. Robert Fair (Sinoville-takvoorsitter) en me. Marlene Nocton (Pretoriase streeksekretaresse).

In 38 van die 76 wyke is daar reeds kandidate gestel. Die res sal later gefinaliseer word.

- Eugene Yssel